Placeholder Picture

Die Faure familie in Suid-Afrika

Ons Stamvader

Ons, die FAURE familie in Suid-Afrika, stam af van Pierre Faure, 'n handelaar uit Orange, Frankryk (gebore in 1634, en oorlede in Orby, Switserland, in 1701). Antoine, ons stamvader, wie se storie ek sal probeer vertel, was sy seun.

As 'n Hugenoot wat in 1686 in Orange gebore is, moes Antoine uit Frankryk vlug en het hom uiteindelik in Suid-Afrika gevestig. Dit alles was lank gelede.

Met al die inligting wat verskeie navorsers bekom het oor ons voorgeslagte, is dit moontlik om hul lewenspad deur Europa te volg, en met groter detail, ook hul lewe in Suid-Afrika. Uiteraard is dit nie moontlik om hul lewenspad presies uit te beeld nie, maar met beskikbare inligting kan mens 'n redelike prentjie vorm. Dit is hierdie prentjie wat ek hieronder wil inkleur. 

  • Ons Stamvader - Antoine FAURE
    • Antoine se lewe in Europa

      Ons verhaal begin in Orange, in die suide van Frankryk, in 1634 met die geboorte van Pierre Faure. Min is bekend aan ons oor Pierre se agtergrond of sy ouers.

      Pierre is in 1660 getroud met Jeanne Soulier en twee kinders is gebore. 'n Seun, genoem Alexandre (waarskynlik genoem na Pierre se pa) in 1661 en 'n dogter Marie in 1664. Ons hoor later weer van Marie. Alexandre sterf in 1680.

      Jeanne, Pierre se vrou, het 'n testament opgestel wat op 15 Junie 1683 deur haar onderteken is en mede onderteken deur Pierre. Marie, hul dogter is die hoof erfgenaam. Jeanne sterf kort daarna.

      Op die Sondagmiddag van 1 Augustus 1683, by die Protestantse Kerk in Courthézon, 'n klein dorpie in die Prinsdom van Orange, wou die 49 jarige Pierre FAURE en die 19 jarige Justina POINTY in die eg verbind word. Daar was egter 'n probleem. Die leraar was nie bereid om dit te doen nie. Die rede was dat Pierre se eerste vrou, slegs ses weke vroeër uit dieselfde kerk begrawe is. Die leraar het nie gedink daar het genoeg tyd verloop vir Pierre om te rou nie. 

      Wat hulle gedoen het om die leraar van opinie te laat verander weet ons nie, maar die twee is toe wel getroud.

      Courthézon Church

      Pierre FAURE, saam met sy broer Jean, het 'n bestaan gemaak as handelaars in en om Orange. Pierre se huwelik het ook nie die wêreld tot stilstand gedwing nie. Ons het rekord van 'n transaksie wat die volgende dag, 2 Augustus 1683, naby Courthézon plaaasgevind het. Pierre en Jean FAURE het op hierdie dag die vrugte-oes van die boer Pierre Raynaud gekoop. Nog 'n teken dat Pierre as handelaar 'n bestaan gevoer het. 

      Gedurende hierdie tyd het Politiek en Geloof 'n groot rol in die alledaagse lewe van die mense in Europa gespeel. So byvoorbeeld het Frankryk met 'n Katolieke koning, Protestante vervolg. In Orange, reeds sedert 1544 deel van Protestantse Nederland, waar ogeveer 'n derde van die bevolking Protestants was, was die lewe baie makliker, en het die inwoners mekaar verdra, ongeag hul geloof. Veral na April 1598 is godsdiens vryheid gevestig in die Edik van Nantes, en is Protestante ook in Frankryk verdra. Gedurende Oktober 1685 is die Edik van Nantes herroep wat die lewe vir Protestante weer moeilik gemaak het.

      In hierdie tyd het die Franse koning, Lodewyk XIV, die gebied van Orange laat beset deur 500 soldate onder bevel van die Graaf van Grignan.

      In ongeveer dieselfde tyd, en wel op 25 Julie 1684, is Pierre Faure en Justina se eersteling, 'n dogter Pernette gebore. Pernette is gedoop op 31 Julie 1684, maar ongelukkig is daar geen ander besonderhede aan ons bekend nie.

      Op 2 Februarie 1686 volg die geboorte van ons stamvader Antoine. Antoine is eers op 20 Maart 1686 gedoop. Dit het gebeur in die Katolieke kerk in Orange. Omstandighede van die tyd het meeste Protestante kerke gesluit en is doop van kinders in Katolieke kerke toegelaat. Die getuie by die geleenthied, en Antoine se pleegvader, was die kaptein van 'n slaweskip, ene Antoine Gragnon. 

      Aan die einde van 1686 het die broers Pierre en Jean FAURE, saam met hulle families, ook Orange verlaat en tel ons hulle spoor weer op in Switzerland.

      Franse vlugtelinge van die tyd, en ons vermoed ook die Faure familie, het uit Switzerland per boot met die Rynrivier gevaar tot by die Nederlandse dorp Zutphen wat bekend was as 'n punt van verwelkoming van die Hugenote. Vandaar het hulle verder getrek na verskillende bestemmings.

      In Junie 1687 word Pierre aanvaar as lid van die Protestantse kerk in Borculo, Nederland, en kort daarna ook Justine. Die attestate van Pierre is oorgedra vanaf die kerk in Lausanne en die van Justine vanaf die kerk in Zurich. Dit laat ons dink dat hulle verblyf in Switzerland ook nie sonder probleme was nie, maar ook weet ons nou dat Pierre en sy familie 'n heenkome gevind het.

      Net buite Borculo was 'n groot kasteel wat bewoon was, op daardie stadium, deur die familie van Graaf Frederik Willem van Limburg-Stirum wat ook sy moeder, Charlotte Elizabeth ingesluit het. Die kasteel was geleë naby die grens tussen die Nederlandse provinsie Gelderland en Katolieke Duitsland. Nodeloos om te verduidelik dat dit nie die beste plek was om te wees nie.

      Pierre het wel diens aanvaar as 'n wag by die kasteel en het hulle op die terrein van die kasteel gewoon. Die jong Antoine het in alle waarskynlikheid 'n Nederlandse skoolopvoeding gehad en natuurlik ook die taal aangeleer.

      Borculo Castle

      Ons kan ongelukkig nie 'n meer volledige prentjie skilder van die Faure familie terwyl hulle in Borculo gewoon het nie. Die kasteel is in 'n brand vernietig en saam daarmee al die dokumente wat ons sou help. Die plaaslike kerk het wel ou dokumente wat behoue gebly het, en daaruit leer ons dat Pierre en Justine nog twee kinders gehad het.

      In 1689 is 'n seun gedoop as Frederik Willem en in 1692 'n dogter as Charlotte Elizabeth. Ons kan raai dat hierdie kinders vernoem is na die kasteel eienaar en werkgewer van Pierre. Dit was moeilike tye en hierdie is een manier om jou dankbaarheid aan iemand te toon. So ook met die dogter wat vernoem is na die moeder van Graaf Frederik Willem. Ongelukkig is daar geen ander verwysing na hierdie twee kinders nie.

      Vrede is verklaar tussen Frankryk en Duitsland met die vredesverdrag van Rijswijk (September 1697). Dit het ook die lewe in Orange meer verdraaglik gemaak. Pierre en Justine, en die 12 jarige Antoine het teruggekeer na Orange, saam met Pierre se broer Jean en sy vrou. Geen melding word gemaak van die twee jonger kinders nie wat kan beteken dat beide jonk gesterf het.

      Op 16 Augustus 1698 is nog 'n seun, Henri, gebore vir Pierre en Justine. Hy is op 1 September 1698 oorlede. Dit is ook ongeveer hierdie tyd dat ons nie meer van Justine hoor nie.

      Die koning van Spanje, Charles II, sterf in 1701. Lodewyk XIV van Frankryk en Willem III van Nederland het elkeen 'n ander kandidaad in gedagte as opvolger. Dit lei tot hernude onmin tussen Frankryk en Nederland en Orange is weer in die middel.

      Pierre Faure, nou reeds 65, besluit om weg te kom van alles. Hy verhuis na Switzerland en gaan woon by sy dogter Maria. Hy sterf daar twee jaar later.

      Die Graaf van Grignan het weer Orange beset, hierdie keer meer geweldadig. Antoine, ons stamvader, is nou werksaam by sy oom Jean as geweersmid. Omstandighede was moeilik met die koning wat hulle voor die keuse stel. Hulle moes hul geloof verander of die land verlaat. 'n Sperdatum vir hul vertrek is uitgevaardig. Antoine, saam met sy oom Jean, die se vrou en 'n kleindogter besluit om te vlug.

      Families was nie toegelaat om saam te reis nie. Die mans was toegelaat om 'n spesifieke roete te volg. Hulle moes Frankryk deur Nice verlaat. Dit het hulle gedoen met 'n roete oor Aix-en-Provence and Antibes. In Nice het die Britse konsul hulle bygestaan met befondsing. Vandaar is hulle oor die  Tendapas (1871m) na Turin in Italië. Hulle het hul bestemming, Geneve in Switzerland bereik oor die Mont Cenispas (2083m) in die Hertogdom van Savoje. Die roete het 22 dae geneem om te voltooi, hoofsaaklik te voet.

      Meeste van die vrouens en kinders het verkies om per boot te reis na Lyon en van daar na Geneve. Daar was 'n probleem met die betaal van die bote wat gelukkig opgelos is deur 'n ryk sakeman Guillaume Denis van Orange.

      Die bootreis het ge-eindig by Seyssel op die grens van Savoje, ongeveer 60km vanaf Geneve. Hierdie laaste skof is te voet afgelê. Hierdie roete het ongeveer 29 dae geneem. 

      Borculo Castle

      As gevolg van 'n tekort aan akkommodasie in Geneve is vlugteling ook versprei na verskeie ander dorpe. Jean Faure, Antoine se oom, en sy familie het in Leipzig plek gekry terwyl Antoine verder is na Shaffhausen waar hy in September 1703 aangekom het. In Februarie 1704, na die winter, kom die groep weer bymekaar en vertrek per boot op die Rhynrivier na Basel en dan noord na Mainz. Tussen Basel en Mainz het hulle boot onder skoot gekom van Franse troepe onder bevel van Maarskalk Taillard wat op daardie stadium die Rhynrivier oorgesteek het. Twee vlugtelinge uit Orange was gewond. In Mainz het die groep 'n ander boot geneem na Frankfurt waar Antoine sy familie verlaat het.

      Jean en sy familie het verder gevaar na Nederland terwyl die 18 jarige Antoine saam met 'n ander groep na Berlyn is. Hier het Antoine besluit om homself as dokter te kwalifiseer. Ons weet dat hy op 17 September 1704 deur 'n chirurg geskik bevind is as leerling, op voorwaarde dat hy eers nuwe klere bekom.

      Duitsland was sedert 1703 met Frankryk in oorlog gewikkel en teen 1707 het Antoine ook betrokke geraak. Daar was verskeie Franse vlugtelinge wat in die Duitse weermag diens gedoen het. Antoine het by so 'n Franse regiment, onder bevel van Kolonel de Varenne, self 'n vlugteling uit Metz, Frankryk.

      Teen 1711 was die twee kante moeg vir oorlog en is daar oor vrede onderhandel. Orange was reeds 'n geruime tyd deur Frankryk beset. Nederland het besluit om nie ernstig aan die onderhandelinge deel te neem nie. In 1713, met die Verdrag van Utrecht, is Orange dan ook by Frankryk ingelyf.

      In 1713 bevind ons 27 jarige stamvader, Antoine FAURE hom in Nederland, en wel in Bergen-op-Zoom.

      Hier maak ons kennis met Alexander FAURE, ook 'n vlugteling uit Orange, wat 'n groot rol sou speel in Antoine se lewe.

      Waarom presies die twee mekaar hier raakgeloop het weet ons nie. Dalk was dit toevallig, of miskien het hulle mekaar geken, of was dalk selfs neefs? (sien ons kennismaking met Alexander in die storie van ons Familiewapen) Het Antoine spesifiek na Bergen-op-Zoom gereis om Alexander te sien? Belangrikste is dat hulle paaie wel hier gekruis het.

      Alexander het 'n belangrike posisie beklee. Hy was reeds 'n geruime tyd die sekretaris van Prins Francois Egon de La Tour d'Auvergne, die Markies van Bergen-op-Zoon. Die Markies was ook 'n Generaal in die Nederlandse weermag en het geval in 1708. Teen 1713 was Alexander steeds in sy posisie op versoek van die erfgename van die Markies.

      Borculo Castle

      Ons het ook rekord van Antoine en Alexander wat in Junie 1713 'n regs-dokument moes onderteken voor 'n notaris, ene Van Samsbeeck. Alexander as die opsteller van die dokument en Antoine as getuie.

      Nog 'n belangrike persoon wat ons in hierdie tyd op Bergen-op-Zoon raakloop is Maurice Pasques de Chavonnes, nou die mees senior offisier van die garnisoen by Bergen-op-Zoom. Hy is pas deur die Nederlands Oos Indiese Kompanjie aangestel in die pos van Goewerneur van die Kaap.

      Die laaste skip wat vanaf die ooste, verby die Kaap in Tessel arriveer het, het ook nuus gebring van die swak toestande en siektes in die Kaap. Chavonnes het besef hy sal moet optree en ook aandag gee aan die werking van die Weeskamer wat besliste aandag nodig gehad het. Die ideale persoon wat hy by die Weeskamer nodig gehad het moes 'n sorgsame en gedissiplineerde karakter hê en in staat wees om te komminikeer in Nederlands, Frans en Duits - tale wat in die Kaap gebruik is. Antoine was die regte kandidaad.

      Borculo Castle

      In Oktober 1714 word Antoine in diens geneem deur die Nederlands Oos Indiese Kompanjie met 'n 5 jaar kontrak. Of Alexander betrokke was by die aanstelling, en of hy Antoine aan Chavonnes voorgestel het weet ons nie. Ons weet wel dat Antoine en Chavonnes saam op die KOCKENEN, met Wouter Reiniersz as kaptein en 'n bemanning van 132, saam met 39 sodate en 14 ander passasiers, uit Tessel gevaar het op 30 November 1713.

    • Antoine se lewe in Suid-Afrika

      Na byna 4 maande arriveer die Kockengen in Tafelbaai op 24 Maart 1714. Ons stamvader, Antoine FAURE is sover bekend die eerste persoon met die van Faure, wat hier voet aan wal sit. In sy bagasie bring hy ook bewys van sy lidmaatskap van die kerk in Orange, en op 25 Junie 1715 word hy voorgestel as lid van die Nederduits Gereformeerde kerk in Kaapstad.

      Antoine was in diens van die Nederlands Oos Indiese Kompanjie (NOIK) as klerk in die Weeskamer. Die weeskamer het funksioneer soos die in Nederland en was betrokke by die hou en uitvoering van Testamente, en het ook opgetree namens persone wat nie in staat was om vir hulself te sorg nie en natuurlik ook weeskinders. Op daardie stadium was daar nog nie 'n Weeshuis, soos ons dit nou ken, in die Kaap nie. Weeskinders was versorg deur vriende en/of familie van afgestorwe ouers. Die Weeskamer was gemoeid met die administrasie en uitvoering van die geld en belange van die Wese.

      Na 18 maande se diens, en wel op 3 Desember 1715, is Antoine bevorder tot 'Boode' van die weeskamer. As bode het sy pligte ingesluit om as skakel te dien tussen die Weeskamer en die buitewêreld. 

      Hoewel Antoine in Kaapstad gewoon en gewerk het - die NOIK het ook huisvesting aan werkers gebied - het hy ook kennis gemaak met die Franse Hugenote gemeenskap by Oliphantshoek (nou Franshhoek) en Drakenstein. Hier was ongeveer 200 ander Franse wat deur die NOIK van grond voorsien is en waar hulle in redelike kort tyd hul waarde getoon het in landbou en veral wingerdbou. Antoine was ook baie warm ontvang deur veral die families van die broers Abraham, Jacques en Pierre de Villiers.

      Op 30 Augustus 1716 tree die 30 jarige Antoine dan ook in die huwelik met die 22 jarige Rachel, dogter van Abraham de Villiers. Hulle het hul intrek geneem in 'n woonhuis in Tafel Valleij wat Abraham kort tevore aangekoop het van  ene Jan Hop. Op 14 Februarie 1717 word Rachel voorgestel as lidmaat van die NG gemeente Kaapstad, Op 5 September 1717 word hul eersteling, 'n seun gebore. Hy word gedoop in die klein gemeente van Drakenstein deur Ds Petrus van Aken. Klein Abraham is genoem na sy oupa, Abraham de Villiers.

      Gedurende November 1717 rig Antoine 'n skrywe aan sy werkgewer, die NOIK, waarin hy versoek om vrygestel te word van sy 5 jaar kontrak. As rede voer hy aan dat sy salaris nie voldoende is om sy familie te onderhou nie. Die versoek word in Februarie 1718 toegestaan.

      Stellenbosch. Dit is waarheen die Faure familie verhuis, maar eers bietjie agtergrond. Teen 1710 is daar 'n klein gemeenskap, ongeveer 20 woonhuise, 'n kerk en natuurlik die Drostdy. Op 'n warm dag sit die Landros in sy tuin, en in 'n poging om sy pyp aan te steek met 'n kool vuur, gebeur die onverwagte. Die brand wat volg verswelg die kerk, drosdy en meeste van die huise. Nodeloos om te sê, die amptelike ondersoek kon nie die oorsaak bepaal nie. Een van die gevolglike probleme is dat 'n geskikte lokaal vir kerdienste gevind moes word. 'n Welgestelde boer, ene Jan Botma (sommige bronne verwys na Botha) bied sy wynkelder aan as tydelike oplossing, maar eers nadat die druiwe-oes verwerk is. Dienste is  vanaf Junie 1711 daar gehou. Kort hierna verkoop Jan Botma sy wingerd aan sy buurman.

      Die kelder, in die middel van die dorp, was nie die ideale oplossing vir die gemeente nie en in 1715 word planne gemaak om 'n nuwe kerk te bou op die perseel van die ou kerk.

      Courthézon Church

      Ons weet nie waar in Stellenbosch Antoine en sy familie aanvanklik in Stellenbosch gewoon het nie. Ons het wel rekord dat hy op 12 Februarie 1719 as diaken in die Stellenbosch gemeente voorgestel is.

      In hierdie tyd het die Kerkraad ook begin soek na 'n geskikte kandidaad om die voorleser, Jacques
      Mathieu te vervang want hy kon nie meer al sy pligte nakom nie. Dominee Beck het Antoine aan die Kerkraad voorgestel as kandidaad. Antoine is toe genooi vir 'n proef op 19 Mei 1719. Die Kerkraad was beindruk met Antoine se voorlesing en sang en het eenparig besluit om hom aan te stel. Daardie tyd was die Goewerneur se toestemming nog nodig (die NOIK het die gemeente personeel se salarisse betaal) en Dominee Beck het die nodige voorlegging gemaak waarna Antoine aangestel is as voorleser en ook as skoolmeester.

      Daar was egter 'n probleem. Jacques Mathieu het nog in die huis gewoon wat aan die pos gekoppel is. Volgens 'n vorige stel reëls, het die Landdros die huis aan Jacques gegee. Die Kerkraad moes nou 'n ander woning vind vir die nuwe voorleser, Antoine Faure.

      Ons leer ook uit ou rekords dat verskeie gebeurtenisse in hierdie tyd Antoine se lewe geraak het. Iewers in 1719 is Jan Botma oorlede. Steeds in 1719, en wel op 7 September, is 'n tweede seun vir Antoine en Rachel gebore. Hy word in Stellenbosch gedoop as Jean Pierre. Antoine se pa en oom is waarskynlik vernoem.

      Ons sien in Kerk argiewe dat die kerk 'n aanbod van 600 gulden gemaak het aan die weduwee van Jan Bothma, Stijntje Christoffelse de Bruin, vir die wynkelder wat steeds as tydelike kerkgebou gedien het. Sy het die aanbod aanvaar. Daar is ook 'n aantekening dat die raad oorweeg om die kelder later te omskep in 'n woonhuis vir Antoine.

      Op 31 Maart 1720 is Abraham de Villiers, Rachel se pa, oorlede. Hy laat 600 gulden(floryn) na aan Rachel. Sy weduwee, Suzanna trou weer op 13 Oktober 1721. 'n Dogter word gebore vir Antoine en Rachel op 11 Mei 1722. Sy word op Stellenbosch gedoop as Suzanna Justina, na beide Rachel en Antoine se moeders. 

      Die Stellenbosh NG gemeeente, nou byna 60 lidmate sterk, het die nuwe kerkgebou gebou met 'n lening van die NOIK. Teen 1722 is dit ingewy maar sonder solder, vloer, orrel of konsistorie. 

      Antoine, soos ons weet, was steeds betaal deur die NOIK. Op 20 Desember 1722 is sy salaris verhoog na 16 gulden per maand. Dit moes 'n groot oomblik gewees het wat die lewe vir die Faure familie makliker kon maak. 

      Op 30 Desember 1722 koop Antoine die woonhuis van Jan Botma van sy weduwee. Die koopsom was 2000 gulden waarvan 500 in kontant betaal is (waarskynlik uit Rachel se erfporsie). Die balans van 1500 gulden is gedek deur 'n brief van voorneme ('kustingsbrief') aan die weduwee. 

      Gedurende April 1724 is Jan Botma se weduwee oorlede. Die boedel sluit in 'n brief van voorneme deur Antoine wat nou skielik betaal moes word. Omdat dit vir hom 'n probleem was, koop die Kerkraad die huis vir die volle waarde van 2000 gulden. Dit was 'n goeie oplossing van die probleem maar die kerk het ook nie onmiddelik die fondse beskikbaar nie. Die bedrag is uiteindelik in 1727 betaal. 

      Antoine en Rachel verwelkom nog 'n seun op 1 Oktober 1724. Hy word in Stellenbosch gedoop as Christianus.

      Die vyf jaar termyn van Antoine se diakens-aanstelling het in 1724 verstryk. Dirk Uijsch word in sy plek aangestel.

      In die tydperk van 1726 tot 1732 is daar 'n tekort van predikante, of soms geskikte predikante, in die drie gemeentes van Kaapstad, Stellenbosch en Drakenstein. By die geleenthede dat geen predikant beskikbaar was om in Stellenbosch op te tree nie, was die taak aan Antoine opgelê. Dit het hom goed besig gehou en volgens rekord het hy hom goed sy taak gekwyt. 

      Nog 'n seun, genoem Jacobus, waarskynlik na Rachel se oom Jacques, is in Stellenbosch gedoop op 27 April 1727. 

      Intussen het die Kerkraad besluit om die wynkelder (of 'pershuize' soos dit aangeteken was), te verkoop. Dit is op 7 Julie 1729 verkoop vir 250 gulden.

      Rachel se moeder, Suzanne, is ook in 1729 oorlede en word die res van Abraham de Villiers se boedel aan sy kinders uitbetaal. Antoine en Rachel ontvang 1369.21 gulden. 

      Ook in 1729, skenk Rachel geboorte aan nog 'n seun. Hy word as Johan Christoffel gedoop op 26 Desember. Ongelukkig sterf hy kort daarna. In 1733 word 'n tweede dogter, Maria, gebore. Sy word op 1 Februarie gedoop maar sterf twee jaar later.

      Op 25 July 1736 sterf Antoine op die ouderdom van 51. Hy word begrawe op die kerkterein, in graf 41. Ongelukkig het kerkrekords nie behoue gebly nie en weet ons nie watter graf dit is nie.

      Op 7 Augustus 1736 het die NOIK Antoine se seun Abraham in sy plek as voorleser en skoolmeester aangestel. Die salaris was steeds 16 gulden per maand en hy het steeds die gebruik van die huis gehad. Die gemeente het toe ook 'n ander huis, met tuin, aan Rachel beskikbaar gestel. Hierdie huis is amptelik aan haar oorgedra in 1753.

  • Die familiewapen

    Daar is nie 'n amptelike familiewapen geregistreer wat ons "ons eie" wapen kan noem nie.

    'n Familiewapen, of wapenskild, word aan 'n indiwidu toegeken, en slegs sy direkte nasate het erflik die gebruiksreg daarvan, en nie alle persone wat dieselfde van voer nie.

    Die wapen wat hier vertoon word, is die wapen wat deur Antoine FAURE na Suid-Afrika gebring is. Dit het amptelik in onbruik geraak na twee geslagte toe daar geen verdere direkte manlike nasate was nie.

    Courthézon Church

    Daar is wel 'n kinkel in die kabel van hierdie familiewapen. Dr Abraham Faure (1795 - 1875) het die bekende FAURE familie van die tyd deeglik aangeteken. Hy noem ook van 'n besoek aan die Kaap en aan hom persoonlik, van ene Pieter Huibert FAURE, 'n direkte nasaat van Alexander FAURE (1671-1741). Die interessante was dat Pieter Huibert FAURE se familie dieselfde familiewapen, met die bul motief, gebruik het.

    Nou die vraag. Was Alexander FAURE (1671-1741) wat ons stamvader in Bergen op Zoom, Nederland gehelp het, sy neef? Was dit hierdie familieband wat hulle bymekaar gebring het? Of was hul ontmoeting slegs toevallig?

    Ons weet nie, en ongelukkig sal ons nooit weet nie. Persoonlik hou ek van die gedagte dat hulle wel neefs was, en dat hul ontmoeting nie toevallig was nie.

  • Antoine of Antoine Alexander

    Baie bronne wat ons nagegaan het toon die voornaam van ons stamvader slegs as Antoine. Dan is daar ook die verwarrende bronne wat sy voorname aangee as Antoine Alexander, veral persone wat ons familiegesiedenis by later geleenthede aangeteken het.

    Ons inligting word bevestig deur hierdie inskrywing van die doopregister van Antoine uit die argiewe van die Katolieke kerk van Orange.

    Placeholder Picture

    Indien u die verhaal van ons stamvader gelees het, sou u ook die naam van Alexander Faure (1671-1741) gekry het as 'n persoon waarvan ons geen familieverwantskap kon bevestig nie, maar vermoed dat hy 'n neef was van Antoine. Die verhaal van ons familiewapen verwys ook na die familie van Alexander Faure.

    'n Nadere ondersoek na die inskrywing van Antoine se geboorte op die bladsye van die Quatro Bybel wat deur Antoine na Suid-Afrika gebring is, toon die inskrywing wel die name Antoine Alexander. Die naam Alexander is egter duidelik in 'n ander handskrif, en waarskynlik later ingeskryf. Ons weet dat die Bybel deur Dr Abraham Faure aan die Stellenbosch Teologiese skool geskenk is. Ons weet ook dat hy kontak gehad het met Pieter Huibert Faure, 'n direkte nasaat van Alexander Faure, soos genoem in die verhaal van die Familiewapen. 

    Het Dr. Abraham die naam van Alexander in die Bybel aangebring? Ons weet nie. Ons kan ook slegs bespiegel wat die redes was vir die inskryf van Alexander se naam in die Bybel.

    Wat ons wel weet is dat Antoine se doopnaam aangeteken is as slegs Antoine, en dat alle inskrywings van sy naam in die rekords van die NOIK, slegs Antoine is, en nie Antoine Alexander nie.

    Tot tyd en wyl ander inligting bekend word, sal ons hom ken as Antoine Faure.

  • Historiese gebeure wat Antoine FAURE se lewensreis beinvloed het

    Hieronder 'n tydlyn van enkele historiese gebeurtenisse wat direk of indirek 'n invloed gehad het op die koms van die Faure familie na Suid-Afrika. Belangrike gebeure in die lewens van Antoine en sy familie verskyn ook hier.

    • 500 Clovis I, Germaanse koning, verslaan die Moslem Arabiere op die Grens van Spanje, en verseker die behoud van Christendom in Europa.
    • 768-814 Charles I word Keiser van die Romeinse Ryk en begin om Europa te verdeel.
    • 838 Charles II word koning van Wes-Europa. Die onstaan van ondermeer hedendaagse Frankryk.
    • 1500 Charles V word koning van ondermeer Nederland en Spanje, deur erflating.
    • 1518 Charles V word gekroon as koning van die Duitse ryk, en Keiser van die Romeinse Ryk. 
    • 1539 Francis I erken Frans (Lanque d'Oui) as enigste taal en verbied so die gebruik van die Occitaanse taal (Lanque d'Oc) in Frankryk.
    • 1544 Die 11 jarige Willem (later Koning Willem I van Nederland) ontvang die Prinsdom van Orange deur erflating. Dit word 'n Protestantse eiland in Katolieke Frankryk tydens die geloofs oorloë van die tyd.
    • 1547 Hendrik II word Katolieke koning van Frankryk. 
    • 1555 Charles V (van Duitsland) abdikeer en sy seun Philip II word Protestante koning van Nederland en Spanje.
    • Apr 1598 Die Edik van Nantes, wat deur koning Hendrik IV van Frankryk onderteken is, het aansienlike godsdiensvryhede aan die Hugenote (Franse Protestante) verleen.
    • 1634 Geboorte van Pierre FAURE, vader van Antoine, 'n handelaar in die Protestante Prinsdom van Orange
    • 1 Aug 1683 Pierre FAURE trou met Justine POINTY in Courthezon, Orange
    • 2 Feb 1685 Geboorte van Antoine FAURE, ons stamvader in Orange
    • Okt 1685 Die Edik van Nantes word herroep deur Lodewyk XIV en daarmee saam alle siviele regte vir Protestante Christene.
    • End 1686 Pierre en Justine verlaat Oranje saam met sy broer Jean FAURE en vestig in Nederland
    • 1687 Pierre word in diens geneem deur Frederik Willem van Limburg-Stirum by die kasteel by Borculo, Nederland
    • 1697 Die nege jaar lange oorlog tussen Frankryk en Nederland word beeindig met die Vrede van Rijswijk. Godsdiens vryheid keer terug na Frankryk, en Orange na die Nederlande.
    • 1697 Pierre FAURE saam met sy broer Jean en hulle families keer terug na Orange
    • 1702 Frankryk is weer betrokke in oorlog met ondermeer Nederland.
    • 1703 Orange word weer beset deur Franse troepe en Protestante (Hugenote) is weer op vlug.
    • 1703 Pierre FAURE sterf aan huis van sy dogter Maria in Orbe, Switzerland
    • 1704 Antoine FAURE vlug na Berlyn via Basel en Frankfurt
    • 1713 Orange word amptelik deel van Frankryk.
    • 1713 Maurice Pasques de Chavonnes, die mees senior offisier van die garnisoen van Bergen op Zoom, aanvaar die pos as goewerneur van die Kaapkolonie by die Nederlands-Oos-Indiese Kompanjie
    • Okt 1713 Antoine nou in Bergen op Zoom en word 'n dienaar van die NOIK met 'n vyfjaarkontrak
    • 25 Maart 1714 Antoine land in Kaapstad aan boord die Kockengen op 'n vaart vanaf Nederland
    • Julie 1714 Antoine word aangestel in die Weeskamer - eers as klerk en later as bode
    • 30 Aug 1716 Antoine trou met Rachel, dogter van Abraham de Villiers van Franschhoek
    • 5 Sep 1717 Antoine en Rachel se eerste seun word gebore. Hy word Abraham genoem na sy de Villiers oupa
    • Feb 1718 Antoine verlaat die diens van NOIK en verhuis na Stellenbosch
    • 12 Feb 1719 Antoine word aangestel as diaken in die NG Gemeente, Stellenbosch
    • 19 Mei 1719 Antoine word aangestel as voorleser en voorsanger in die NG Gemeente, Stellenbosch
    • 7 Sep 1717 Antoine en Rachel se tweede seun word gebore. Hy word Jean Pierre genoem na Antoine se Pa en Oom
    • 11 Mei 1722 'n Dogter word vir Antoine en Rachel gebore. Sy word genoem Suzanna Justina na haar twee oumas
    • 25 Jul 1736 Antoine sterf en word begrawe in graf 41 op die perseel van die NG Gemeente Stellenbosch
Tuisblad  /  Waar kom ons vandaan  /  Ons Stamvader  /  Geslagsregister  /  Kontak  /  Terme en Voorwaardes  /  Privaatheid
GEEN Kunsmatige Intelligensie (AI) is gebruik met die maak van hierdie webblad nie.
Placeholder Picture