faure.co.za

Plekke en dinge Faure

Sommige lede van die Faure familie het 'n indruk gelaat. Soveel dat dinge of plekke na hulle vernoem is. Hier is enkele voorbeelde.

Hier in Suid-Afrika

FAURE

Faure (34 02S 18 44O) is 'n spoorwegstasie, ongeveer 16km suid-wes van Stellenbosch en 12km noord-wes van die Strand.

Toe die spoorlyn aanvanklik gebou is moes 'n naam gevind word vir die stasie. Dit is geleë tussen plase wat aan verskillende Faure families behoort het en die keuse van naam was redelik maklik. Sover ek kon vasstel was dit nie vernoem na 'n spesifieke individu nie.

By Faure is interessante ontwikkeling. Dit is die adres van iThemba Labs waar Versneller-baseerde navorsing gedoen word, asook die Cape Town Film Studios 'n Hollywood styl komplex doelgemaak vir film vervaardiging.

www.faure.co.za

FAURESMITH

Fauresmith (29 45S 25 19O) is die derde oudste dorp in die Vrystaat. Dit is in 1850 uitgelê en het in 1859 'n munisipaliteit geword.

Dit is een van min plekke in die wêreld waar die spoorlyn in die hoofstraat loop. In 'n stemming om die hoofstad van die Vrystaat te bepaal het dit met slegs 3 stemme teen Bloemfontein verloor.

Die dorp is vernoem na Dominee Philip Eduard Faure (1811-1882) en Sir Harry Smith, Goewerneur van die Kaap.

Vandag word dit seker die beste onthou vir die jaarlikse perde uithourit.

www.faure.co.za

FAURE MARINE DRIVE

Die Faure Marine Drive, met die R44 vanaf Gordonsbaai tot Rooiels, is een van die mooiste roetes in ons land.

Genoem na Philippus Albertus Brand Faure (1875-1947) die Parlementslid vir hierdie kiesafdeling vanaf 1929 tot 1945.

www.faure.co.za

FAURE STRAAT

Ek kan met reg vra - Watter Een?

Van Faure Avenue in Los Angeles tot Rua Faure in Sao Paulo tot Faure Road in Soweto, is daar 'n groot aantal strate, nie net plaaslik, wat na een of ander Faure vernoem is. In tyd hoop ek om meer van hulle hier te lys en waar moontlik die skakel met die persoon wat vernoem is.

www.faure.co.za

FAUREA SALINGA

Hierdie lid van die Proteaceae familie, aan ons bekend as die Boekenhout, kan tot 10m hoog groei en tot 20m in woudstreke. Daar is 15 verskillende spesies van Faurea en dit kom algemeen voor in die tropiese dele van sentraal Afrika en Madagaskar.

Die rowwe en diep gegroefde bas is donker grys tot swart. Die smal blare wat hang herriner aan 'n wilg. Die hout is baie waardevol. Die Voortrekkers het dit graag gebruik vir die maak van meubels en het dit die Transvaal Boekenhout genoem, ook omdat dit baie lyk soos die Europese Beuk.

William Henry Harvey het die genus vernoem na sy vriend William Caldwell Faure (1822-1844), 'n jong soldaat en entoesiastiese botanis wat jonk in Indië gesterf het.

www.faure.co.za


.... en in ander dele van die wêreld:

TOUR DE FAURE - FRANKRYK

Op die walle van die Lotrivier binne die grense van die Causses du Quercy Streeks Natuurpark, langs roete D662, is die dorpie Tour de Faure.

Dit was eers bekend as Montagnac en is naby die middeleeuse dorp Saint-Cirq-Lapopie. Vanaf 1440 word die naam 'La Tour de Faure' (Die toring van Faure) gebruik.

Die dorp bestaan uit sowat 140 wonings met 'n bevolking van sowat 400.
Streek: Midi-Pyrénées. Departement: Lot. Hoofdorp in Departement: Cahors (33km na die weste).
Poskode:46330 Lat: 44.46878 Long: 1.69007 Hoogte b seevlak: 140m. Afstand vanaf Parys: 490km.

www.faure.co.za

FAURE EILANDE - ANTARCTIKA

Die Faure Eilande is 'n groep rotsagtige eilande en riwwe ongeveer 5km lank sowat 33km suid-wes van Cape Alexandra, aan die suid-oostelike punt van Adelaide Eiland in Marguerite Baai aan die weskus van Grahamland, Antartika. Dit is deur die Franse Antartiese Ekspedisie (FrAE) onder leiding van Jean-Baptiste Charcot van 1908-1910 ontdek en vernoem na Maurice Faure (1850 - 1919), 'n Franse Akademikus en Staatsman.

Dismal Eiland (68°6'S 68°50'W) sowat 2km lank en 60meter hoog is die grootste van die Faure Eilande en hoofsaaklik met ys bedek. Die eilande is gedurende 1949 deur die Falkland Islands Dependencies Survey ondersoek en karteer. Dismal (a=aaklig, droewig, neerdrukkend, troosteloos) het toe sy naam gekry weens sy voorkoms van uiterste leweloosheid.

Suid-wes van die eilande is die Faure Kanaal (Faure Passage) 'n veilige diep deurgangsroete vir skepe tussen die Faure Eilande en die Kirkwood Eiland.

www.faure.co.za

FAURE EILAND - AUSTRALIË

Ook Australië het 'n Faure Eiland. Dit is geleë aan die weskus, in die Wêreld Erfenis Shark Bay. Dit word besit en bestuur deur die Australian Wildlife Conservancy (AWC). Die AWC het die eiland van 5,300ha onlangs weer bevolk met inheemse plant en diere spesies nadat hulle verskeie indringers verwyder het.

Die eiland is in 1801 ontdek deur die Franse ondekkingsreisiger Nicolas Baudin en vernoem na die geograaf Pierre Faure aan boord van sy skip die Le Naturaliste.

Weidingsregte is so vroeg as 1873 vir die eiland uitgereik. Teen 1999 is die regte bekom deur die AWC wat toe meer as 3,400 skaap van die eiland verwyder het.

Die eiland bestaan hoofsaaklik uit rooi en wit sandvlaktes en duine, met klei panne in die laagliggende gebied. Die hoogste punt is 26m bo seevlak.

www.faure.co.za

ALFRED FAURE WEERSTASIE - POSSESSION EILAND

Die Alfred Faure weerstasie, bokant Port Alfred is a permanente Franse wetenskaplike navorsingstasie op Possession Eiland in die Crozet argipel, sowat 3000km suid-oos van Kaapstad.

Dit is geleë aan die oostekant van die eiland op 'n plato sowat 140m bo seevlak. Dit word permanent beman deur 'n groep van tussen 15 en 60 personeellede. Die werk wat daar gedoen word sluit in meteorologiese, seismiese, biologiese en geologiese navorsing.

Die huidige navorsingstasie is gebou in 1963 en is genoem na Alfred Faure, die spanleier van die tyd.

www.faure.co.za

FAURE QUASI-RANDOM SEQUENCES

Since the beginning of the computer age, Monte Carlo methods have been used to evaluate integrals, solve integral equations, and simulate physical processes. These methods use a sequence of points, usually a deterministic pseudo-random approximation to a randomly chosen sequence, to sample the values of the integrand function or the possible steps in a process.

Over the years a number of techniques, like the Faure Quasi-random sequences, have been developed to improve the accuracy of these methods.
(source: WJ MOROKOFF, Mathematics Department, University of California Los Angeles)

Ontwikkel deur ene Henri Faure, wiskundige by die Institut de Mathématiques de Luminy, Marseille, wat sy werk in 1982 publiseer het en dit word steeds gebruik.

www.faure.co.za

Indien u van ander plekke of dinge wat die Faure naam gebruik, laat weet my asb.