Daar is 'n hele aantal mense wat die naam Faure dra wat iewers 'n besigheid besit of bedryf. Daar is ook instellings wat gebruik maak van die Faure naam - sommige weens ligging, ander weens 'n vroër verbintenis met 'n Faure. Wat ookal die rede, meeste is besig om die naam met trots te dra. Ek lys hieronder sommige wat my oog gevang het.
Hier in Suid-Afrika:
FAURE & FAURE
Die regspraktyk Faure & Faure is in 1880 deur Pieter Hendrik Faure (1848 - 1914) gestig, met kantore in die Paarl. Pieter se seun Koos (Jacobus Christiaan 1879 - 1955) het by sy pa aangesluit na hy ook as prokureur toegelaat is.
Pieter Hendrik was vanaf 1889 parlementslid vir 23 jaar, 14 waarvan as minister. Hy is in 1895 tot Ridder geslaan en was daarna bekend as Sir Pieter.
Die onderneming is steeds in die Paarl gevestig.
FAURE CONSULTANTS
Faure Consultants opereer uit Kwa-Zulu Natal en word beskou as spesialiste in Asfalt toerusting asook Silo vervaardigers. Hulle voorsien ook swaar materiaal hanterings toerusting, water suiwering en riool hanterings dienste.
GLEN FAURE WINES
Glen Faure bemark bekostigbare wyn in die informele mark en hy voer ook wyn uit na Angola, Mosambique and Nigerië. Hy bekom wyn van verskeie produsente en voorsien 'n interessante kwaliteit wyn teen uitstekende pryse.
Dit was nog nie moontlik om enige familie verband te bepaal nie.
.... en in ander dele van die wêreld:
FAURE
Faure is net nog 'n handelsmerk in die reuse Sweedse konglomoraat, Electrolux. Faure is bekend in Europa vir hoë gehalte kombuis toerusting soos yskaste, stowe en dies meer.
Dit het alles in 1854 begin en die handelsmerk is vandag nog steeds gewild. Volgens Eloctrolux: (my vertaling) 'Faure is gevestig aan die voorpunt van ontwerp en innovasie. Daardie beeld het Faure as die nommer 3 handelsmerk in Frankryk gevestig vir die termyn vanaf 1970 tot 1988.'
FAURECIA
Hierdie is seker die grootste suksesverhaal in die Faure geskiedenis van besigheid. In 1914 het Bertrand Faure 'n fabriek begin waar motorsitplekke vervaardig is. Die maatskappy het ook in 1954 beddens begin vervaardig.
Gedurende die 60s en 70s het Bertrand Faure se onderneming gegroei en teen 1971 was dit reeds verteenwoordig in meeste Europese lande. Teen 1982 het die maatskappy betrokke geraak in die bagasie besigheid met die oorname van Delsey. Gedurende 1983 is die Amerikaanse mark betree en teen 1989 ook die Verenigde Koninkryk en Japan. Aan die einde van 1996 was daar ook kantore in Sjina, Korea en Brasilië.
Verdere groei het gevolg, ook deur oornames, en teen 1999 volg die samesmelting met ECIA en die geboorte van Faurecia.
Vandag is Faurecia die 6e grootste internasionale motor onderdeel vervaardiger. Een uit elke vier nuwe motors is toegerus met Faurecia komponente. Faurecia ontwerp en vervaardig sitplekke, die totale binneruim (paneelbord, deur panele ens) uitlaatstelsels, skokbrekers en ander buite komponente soos die voor- en agterkante van die voertuig. Faurecia beskik oor meer as 320 produksie aanlegte in 34 lande en het meer as 95,000 werknemers.
Mooi so Bertrand!
PIERRE FAURE AUTOMOBILES
Pierre Faure Automobiles was in Parys gevestig en het die onderskeiding dat hy een van die eerste motor vervaardigers was om 'n elektriese voertuig te bou.
Brandstof voorsiening was gedurende die oorlog baie onvoorspelbaar en dit het gelei tot die bou van die Pierre Faure 'Elektra' wat in 1941 bekendgestel word. Hierdie merkwaardige voertuig was toegerus met 6 batterye wat dit kon aandryf teen ongeveer 40km/h. Dit kon sowat 80km haal voordat dit herlaai moes word.
As gevolg van die probleme om materiaal te bekom is slegs 25 eenhede gebou. Sommige van hulle is nog in omloop.
Kliek hier om te sien hoe hy gelyk het.
FAURE TOURISME
Faure Tourisme opereer reeds vir die afgelope 160 jaar vanuit Lyon, Frankryk.
Huidiglik bedryf hulle 9 kantore asook verskeie agentskappe en lewer diens met meer as 1000 personeellede.
LIVRARIA BERTRAND
Daar is wel nie meer enige Faure betrokke in hierdie onderneming nie, maar sy storie regverdig die inskrywing. Dit begin met die Fransman, Pedro Faure wat in 1727 'n drukkery in Lisabon, Portugal open.
Teen 1732 het Pedro Faure 'n boekwinkel geopen in Rua Direito do Loreto, Lisabon. Gedurende 1742 het sy skoonseun, Pierre Bertrand, by hom aangesluit en verander die winkel se naam na "Pedro Faure & Bertrand".
Die winkel is verwoes tydens die aardbewing van 1755 en is herbou in Rua Garrett op die Chiado plein, Lisabon, waar dit steeds vandag besigheid doen, asook in 52 ander persele.
In 2010 is dit in die Guinness Book of World Records opgeneem as die oudste boekwinkel in die wêreld wat steeds in bedryf is.
Dit is uiteraard onmoontlik om almal wat besigheid doen hier in te sluit, maar indien u van ander besighede weet wat die Faure naam gebruik, of miskien ken u 'n Faure wat 'n besigheid bedryf, laat my asb weet.
faure @ faure.co.za