Daar is/was mense met die naam Faure wat in die geskiedenis onthou sal word vir verskeie redes. Sommige van hulle word hier genoem.
Hier in Suid-Afrika:
Dr Abraham FAURE
Abraham Faure (1795 - 1875) is gebore in Stellenbosch.
Hy bestudeer teologie aan die Universiteit van Utrecht (Nederland). Met sy terugkeer in 1818 word hy aangestel as leraar van die Nederduits Gereformeerde Kerk in Graaff-Reinet. Teen 1822 word hy verplaas na die Grootte Kerk in Kaapstad waar hy dien tot sy dood in 1875.
Sy bydrae en nalatenskap het ondermeer die volgende ingesluit:
• Begin 'n sendingstasie in Graaff-Reinet vir plaaslike inwoners en slawe. Stig 'n sendingstasie (saam met Andries Stockenstrom) noord van die Oranjerivier.
• Instrumenteel tot die tot stand koming van die eerste Sinode in Suid-Afrika (Kaapstad 1824). Dien as Aktuaris (1829-67), archivaris (1829-67), Skriba (1842-62) en Tessourier van die Sinode Fonds asook die Weduwee en Wese Fonds.
• Hy bring die eerste kerk biblioteek tot stand en saam met Thomas Pringle begin hy die eerste tydskrif in Suid-Afrika, 'Het Nederduitsch Zuid-Afrikaansche Tijdschrift' (1824 - 1843)
• Begin in Okt 1838 die eerste gemeente tydskrif, vandag bekend as die 'Die Kerkbode'. He was redakteur tot 1869.
Op die gebied van onderwys het hy die volgende bydrae gemaak:
• Abraham was instrumenteel tot die stiging van die South African College in 1829 waar hy ook onderig gee vir 3 jaar. In tyd het die South African College ontwikkel tot beide die South African College Schools (SACS) asook die Universiteiet van Kaapstad (UCT).
• Hy pleit by die Britse Minister van Kolonies, Count Bathurst, vir die stigting van 'n teologiese Seminarium in die Kaap wat uiteindelik lei tot die Teologiese Seminarium van Stellenbosch in 1859.
In 1862 het die Rutgers College van New Brunswick (NY) aan Abraham 'n Ere-Doktorsgraad in Teologie toegeken.
Sir Pieter FAURE
Pieter Hendrik Faure (1848 - 1914) is gebore op 'Vergenoegd' en was 'n prokureur en politikus.
Nadat hy kwalifiseer as prokureur open hy 'n regspraktyk in Paarl in 1880. Teen 1889 word hy lid van die Parlement en in 1890 stel Cecil John Rhodes hom aan as Minister van Naturelle Sake. Hy dien ook as Koloniale Sekretaris in Rhodes se tweede regering (1894-1896). Gedurende 1896 word hy minister van Landbou tot 1898 en word belas met die uitwissing van die Rinderpes.
Vanaf 1900 dien hy weer as Minister van Landbou en tussen 1902 en 1904 as Koloniale Sekretaris. Vir die termyn 1904 tot 1907 dien hy op die Kommissie van Ondersoek na Oorlogskades. Hy verteenwoordig die Westelike Provinsie in die Wetgewende Vergadering vanaf 1908 tot 1910.
Hy word tot Ridder geslaan in 1895.
Rev David FAURE
David Pieter Faure (1842 - 1916) is gebore in Stellenbosch. In sy uiters interessante autobiografie 'My life and Times' (Juta 1907) vertel hy die verhaal van iemand wat diep spore getrap, en 'n interessante lewe gelei het.
Na sy skoolopleiding in Kaapstad bestudeer hy Teologie aan die Universiteit van Leiden waar hy onder die invloed van die Moderne Teologie 'n vrye denker word. Sy siening het lynreg gebots met die van die meer Ortodokse siening van die NG Kerk. Hy begin 'n reeks lesings in Kaapstad wat lei tot die stigting van die Vrye Protestantse Kerk (huidige Unitarian) in 1868 waar hy ook vir 29 jaar as leraar optree.
In 1884 vergesel hy die afvaardiging van die Zuid-Afrikaanse Republiek, onder leiding van President Paul Kruger, as vertaler, na Londen vir die ondertekening van die Londen Konvensie.
As Vrymesselaar hou hy verskeie ampte tussen 1870 1n 1897, ondermeer die van Provinsiale 'Grand Master' asook die van 'Deputy Grand Master'. David was ook 'n jagter, hengelaar, het krieket gespeel, was 'n meester snoekerspeler en het graag skaak gespeel.
Col Hannes FAURE
Johannes Philibert Morkel Faure (1917 - 1995) het grootgeword op die plaas 'Kahlenberg' naby Faure. Hy en sy jonger broer Hendrik Morkel ('Hennie') het die plaas ge-erf en uiters suksesvol die familie boerdery bedryf.
Die behoefte aan aksie het ingemeng. Terwyl Hennie met die boerdery voortgegaan het, het Hannes, as 'n 'Shaka' vrywilliger in die Winteroorlog in Finland naam gemaak as uitstekende en suksesvolle vegvliënier.
In 1941 sluit hy by die lugmag aan. Hy doen diens as vliënier oor Noord-Afrika, Malta, Sicilië en Italië. Hy word vereer met verskeie medaljes en toekennings en as jong Lt.Kol het hy die eer om die SA Lugmag te lei by die Oorwinnings Parade in Londen (Junie 1946).
Met sy terugkeer na die oorlog neem hy die bevel van die Lugmagbasis by Langebaan en aan die einde van 1950 keer hy terug plaas toe. Hy is in Februarie 1995 oorlede.
.... en in ander dele van die wêreld:
Pres Felix FAURE
As een van die beroemde Faures was Felix François Faure (30/01/1841 – 16/02/1899), die 7e President van die 3e Republiek van Frankryk. Hy het gedien as President vanaf 1895 tot 1899.
Gedurende sy termyn is die Exposition Universelle van 1900 beplan. Baie van die aantreklikhede van hedendaagse Parys, soos die Eifel toring, Grand Palais, Petit Palais en Pont Alexandre III is gedurende sy presidensie opgerig.
Sy uitgesprokenheid het hom soms ongewild gemaak. So het hy byvoorbeeld by 'n spoggeleentheid aan die Franse motorvervaardigers gesê dat: "Julle voertuie is ernstig lelik en hulle stink".
Felix word egter nie onthou vir alles wat in sy termyn gebeur het nie. Sy groot oomblik het gekom toe hy sy meisie van die tyd in sy kantoor onthaal het. Dit op sigself was in daardie tyd aanvaarbaar, maar vir die ongelukkige Felix was die oomblik te groot en hy het dit nie oorleef nie.
Gabriel FAURÉ
Die komponis Gabriel Fauré (12/05/1845 – 04/11/1924) is seker die bekendste van al die Faures.
Hy het sy musiekloopbban op ouderdom 9 begin toe hy na 'n musiekskool in Parys gestuur is. Een van sy leermeesters van die tyd, en uiteindelik jarelange vriend, was Camille Saint-Saëns.
Gabriel het aanvanklik 'n bestaan gemaak as orrelis en musiek onderwyser waar hy ook vir Maurice Ravel onder hande geneem het. Hy is later aangestel as die direkteur van die Paris Conservatoire.
Gabriel Fauré was 'n hoogs aangeskrewe en wyd gerespekteerde persoon.
Edgar FAURE
Edgar Faure (18/08/1908 – 30/03/1988) het in die regte studeer in Parys en op ouderdom 21 is hy tot die balie toegelaat. Die jongste prokureur ooit op daardie stadium.
In 1942 het Edgar uitgewyk na Algiers waar hy aangestel was in die regsafdeling van die Voorlopige Regering van die Republiek. Na die oorlog tree hy op as regsverteenwoordiger van Frankryk by die Nuremberg verhoor.
In 1946 word hy tot die parlement verkies waar hy ook in verskeie ministeriële poste diens doen. Hy dien ook as Eerste Minister vir twee termyne tussen 1952 en 1956.
Maurice FAURE
Maurice Faure (02/01/1922 – 06/03/2014) was parlementslid vanaf 1951 tot 1983 asook minister in verskeie Franse regerings. Hy dien as Senator vanaf 1983 tot 1988 en word deur President François Mitterrand aangestel in die Konstitusionele Raad.
Na aftrede verhuis hy na die dorpie Cahors in die suide van Frankryk waar hy vir 25 jaar as burgemeester dien.
In 1957 teken Maurice namens Frankryk die Verdrag van Rome - waaruit die Europese Unie tot stand gekom het.
Patrick FAURE
Patrick Faure (12/05/1946 - ), seun van Maurice (hierbo) was 'n Franse sakeman.
Hy sluit in 1977 by Renault aan en word vinnig bevorder tot streeksbestuurder. Teen 1981 neem hy die bestuur oor van Renault Oostenryk en in 1982 Renault VK. In 1985 word hy bevorder tot hoof van Komminikasie en Openbare Betrekkinge. Teen Januarie 1986 word hy aangestel op die Raad van Direkteure asook President van Renault Sport.
Patrick word aangewys as die Voorsitter en CEO van Renault Sport in 1991. Teen 1998 dien hy ook as Voorsitter en CEO van Renault Beherend. In 2001 word hy Uitvoerende Vise-President van Renault. Hy tree af aan die einde van 2005.
Kieth FAURE
Een van die berugde Faures. Keith George Faure (1951 – ) van Norlane, Victoria, is 'n Australiese beroeps misdadiger. Hy dien tans 'n lewenslange vonnis uit vir ondermeer verskeie moorde, manslag, gewapende roof en meer.
Kieth kom uit 'n bekende misdaad-familie en hy het ook twee jonger broers, Leslie en Noel, wat albei ook langtermyn vonnisse uitdien vir ondermeer moord en manslag.
Hy, of is dit sy storie, was die inspirasie vir 'n rolprent, ('Chopper', Australië 2000 - waarin sy karakter ook uitgebeeld word) en 'n TV dramareeks ('Underbelly', Australië 2008 - 'n dramatisering van die Melbourne onderwêreld met Kieth se lewe uitgebeeld deur een van die hoofkarakters).
Indien u van ander beroemde Faures weet wat 'n inskrywing hier regverdig, stuur asb die inligting aan my.
faure @ faure.co.za